
In haar 'transformasie-trilogie' bestaande uit Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009) artikuleer Antjie Krog haar kritiek op en weerstand teen bepaalde opvattings van Westerse moderniteit. Die nagevolge van kolonialisme in Suid-Afrika in die vorm van apartheid, en die modernistiese skepping van 'ras' word as problematiese konsepte hanteer en Krog onderneem soektogte na 'n alternatiewe manier van wees in Suid-Afrika. Jacomien van Niekerk karteer in 'baie worde': Identiteit en transformasie by Antjie Krog die argumente wat in die loop van die trilogie opgebou word rondom die nou-vervlegte konsepte van kolonialisme/postkolonialisme, 'ras', identiteit, 'n Afrika-wêreldbeeld en die Suid-Afrikaanse nasie–en maak as sodanig 'n bydrae tot aktuele diskoerse.
Hoofstuk 1: Inleiding – Die transformasie-trilogie
Hoofstuk 2: Postkoloniale wording
Hoofstuk 3: Krog se verkenning van ‘n ‘Afrika-wereldbeeld’
Hoofstuk 4: ‘Ras’ en medepligtigheid
Hoofstuk 5: Om te hoort – nasie en identiteit
Hoofstuk 6: Slot – Die onbepaalde self
Geraadpleegde bronne
Register
Die digter Antjie Krog is enige dosent se droom in ’n kursus oor die feminisme. ’n Mens kan volledige vrouwees karteer aan die hand van haar gedigte.
Krog as openbare figuur en politieke kommentator lok dikwels reaksie uit. Sy is duidelik ’n persoon met ’n gewete en in haar transformasie-trilogie, Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to Be Black (2009), neem Krog standpunt in oor kolonialisme, onderdrukking en hoe ons binne ’n Westerse samelewing (in Afrika) reageer teen die Ander. Jacomien van Niekerk se boek kyk dan na kolonialisme/postkolonialisme, “ras”, “identiteit” in Afrika en sy lewer inderdaad ’n bydrae tot die komplekse en aktuele diskoers.
Oor Krog het literatore soos Willie Burger, Anthea Garman, Helize van Vuuren, Louise Viljoen, Johan Jacobs en vele ander geskryf. Sy bly ’n fassinerende subjek en ook digters reageer op haar werk in die vorm van palinodes en teensange; nes sy op haar beurt weer reageer op Eybers, Sexton, Erica Jong, Plath, e.a.
Krog is omstrede. Haar onlangse uitsprake oor armoede en die verdeling van rykdom het ’n debat ontlok. Met Krog is die eerlikheid en direktheid nieonderhandelbaar.
Die titel “baie worde” verwys na ’n gedig uit Kleur kom nooit alleen nie (2000):
“boot”
nie van wees nie
maar van word
baie worde
verby verlore en ontheemde ruimtes
baie baie worde
En dit som die studie perfek op: die baie worde; die baie selwe en belewenisse. Die private versus die openbare; die digter as pryssanger, as vertaler – die ander tongval, die oopskryf van Afrika, die digter as gewete van die volk. Worde aktiveer ook baie woorde . . .
Jakes Gerwel het haar beskou as ’n Afrika-intellektueel en die onverkwiklike debakel rondom Met woorde soos met kerse (2002) het veelal bewys dat sy dit is: die tekste wat sy vertaal en teruggee, aktiveer ’n Afrika-kollektief. (Hieroor het Helize van Vuuren insigryk geskryf in haar studie A Necklace of Springbok Ears, by SunMedia uitgegee, waar sy wys hoe vér die Boesman-gesprek teruggaan in Afrikaans en Stephen Watson se aanklagte verkeerd bewys.)
Met Van Niekerk se boek word die gesprek voortgesit. Vir my is Krog se drieluik minder as haar digkuns. Sy is myns insiens dikwels te emosioneel, maar terselfdertyd is my standpunt: dit wat die digter laat gedigte skryf, moet ons eer. En haar belangrike posisie kan nie ontken word nie.
Van Niekerk meen dat dit inkorrek is om Deleuze en Guattari van Eurosentrisme te beskuldig (38). Nou as kenner van hul werk wonder ek hoe sy so ’n stellige uitspraak kan maak as sy self in ’n voetnoot op bladsy 26 erken dat sy op ’n artikel van Willem Anker steun en “geen aanspraak maak op volledigheid nie”!
Die nomaad/risoom word binne ’n ander konteks gebruik en hierom het Spivak juis hierdie kritiek geopper.
Krog se gebruik van terme soos mineurwording, die nomaad, en dies meer, moet myns insiens eerder as ’n kreatiewe reaksie as ’n filosofiese besinning gesien word. Dieselfde geld wanneer sy Adorno aanhaal in Country of My Skull dat daar geen poësie moontlik is nie ná Auschwitz. Digters as skrywers van niefiksionele tekste (faksie) reageer eerder kreatief en nie wetenskaplik nie.
Deleuze en Guattari se skisoanalise is direk gerig teen Lacaniaanse denke wat Eurosentries begrond is. Wanneer sy egter oor prysliedere skryf, die invloed van Desmond Tutu op Krog se denke, Krog as imbongi, en die kompleksiteite van Afrika ondersoek, is sy op vaster voet.
Vir die hedendaagse gesprek oor ubuntu, witheid en dekolonisering is hierdie boek wel tersaaklik en aan te beveel. Oruka, die Afrika-filosoof, se werk en die besoek aan koning Moshoeshoe se graf, is openbarend. Die hele studie weergalm met die subteks hoe wit en swart verskillend na die wêreld kyk.
Joan Hambidge is professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die UK.
All of our printed books are sold through Takealot, a leading book retailer and distributor in South Africa. By clicking "Continue", you'll be redirected to their website, where you can complete your purchase.
All of our printed books are sold through Snapplify, a leading ebook retailer and distributor in South Africa. By clicking Continue, you'll be redirected to their website, where you can complete your purchase.