
In die afgelope bykans 35 jaar het ’n groot leemte ontstaan aan omvattende verwysingsbronne en handboeke in die Afrikaanse taalkunde wat op universiteitsvlak voorgeskryf kan word. Die vorige sodanige bron is in 1989 gepubliseer, naamlik Inleiding tot die Afrikaanse Taalkunde deur T.J.R. Botha. In 2014 word hierdie leemte gevul deur Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (KAT). Die feit dat ’n tweede, hersiene (2017) en ’n derde uitgawe (2025) al binne minder as tien jaar verskyn, beklemtoon weer eens die groot behoefte aan so ’n bron.
KAT se wye gebruik op universiteitskampusse in Suid-Afrika en elders bewys die nut wat hierdie boek verkry het in die ontsluit van die Afrikaanse taalkunde as akademiese dissipline. Die boek het reeds die status van ʼn “onmisbare bron” gekry.
Die samestelling van hierdie boek bied ’n nuwe blik op die taalkunde en het wye gebruikspotensiaal omdat dit die kernvelde van die taalkunde, en in die besonder die Afrikaanse taalkunde, dek. Sodoende gee dit nuwe lewe aan ’n belangrike komponent in die bestudering van die Afrikaanse taal: die taalkunde en alles wat daarmee saamhang.
Inhoud en konsepte strek van die ontstaan en aard van die Afrikaanse taal, leksikografie en dokumentontwerp tot fonetiek, fonologie, morfologie, sintaksis, semantiek, pragmatiek, taalverwerwing en die normatiewe taalkunde. Al die bestaande hoofstukke is op datum gebring, en sommige is werklik ingrypend aangepas om nuwer tendense of publikasies in die betrokke subdissipline te weerspieël. In verskeie gevalle is nuwe skrywers betrek. ’n Verdere vernuwing is die byvoeg van ’n hoofstuk oor toegepaste taalkunde om ook hierdie komponent van taalkundebeoefening in die groter Afrikaanse taalkundeprentjie in te trek. So word daar ’n mooi wisselwerking tussen Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde en die nuwe boek Toegepaste Taalkunde in Afrikaans (2022) bewerkstellig.
Bydraes deur spesialiste in die onderskeie velde bied in hierdie boek die nuutste navorsing en ’n verskeidenheid teoretiese vertrekpunte met die Afrikaanse taalkunde as fokus. Nuwe en moontlik selfs omstrede standpunte sal akademiese gesprek stimuleer, terwyl elke hoofstuk nasionale en internasionale ontwikkelinge op die bepaalde gebied voorlê aan ’n nuwe geslag studente, onderwysers, akademici en taalpraktisyns.
Hoofstuk 1: Die Afrikaanse taalkunde van toeka tot nou
Hoofstuk 2: Die eksterne geskiedenis van Afrikaans
Hoofstuk 3: Taalverandering in Afrikaans
Hoofstuk 4: Fonetiek
Hoofstuk 5: Fonologie
Hoofstuk 6: Morfologie
Hoofstuk 7: Basiese Afrikaanse sintaksis
Hoofstuk 8: Afrikaanse sintaksis, funksioneel benader
Hoofstuk 9: Leksikale semantiek
Hoofstuk 10: Pragmatiek
Hoofstuk 11: Sosiolinguistiek
Hoofstuk 12: Normatiewe taalkunde
Hoofstuk 13: Leksikografie
Hoofstuk 14: Dokumentontwerp
Hoofstuk 15: Taalverwerwing en taalonderrig
Hoofstuk 16: Toegepaste taalkunde
All of our printed books are sold through Takealot, a leading book retailer and distributor in South Africa. By clicking "Continue", you'll be redirected to their website, where you can complete your purchase.
All of our printed books are sold through Snapplify, a leading ebook retailer and distributor in South Africa. By clicking Continue, you'll be redirected to their website, where you can complete your purchase.